2010-2020 kan in baie opsigte beskryf word as die dekade van Reformasie-herdenkings; hiervan is 2017 – die 500-jarige herdenking van die begin van die Reformasie op 31 Oktober 1517 – sekerlik die hoogtepunt. In 2012 het die drie van ons besef dat hierdie dekade van Reformasie-herdenkings ‘n wonderlike geleentheid bied om die historiese bewussyn onder gereformeerdes in Suid-Afrika te vernuwe en tegelykertyd die aktualiteit van hierdie gebeurtenisse in die kollig te plaas. Ons het effens laat wakker geskrik en daarmee was die geleentheid om die ontstaan van die Nederlandse Geloofsbelydenis in 1561 te gedenk, daarmee heen. Maar in 2013 het ons weggespring met die 450-jarige herdenking van die Heidelbergse Kategismus, en sedertdien het ons elke jaar ‘n konferensie aangebied. Die eerste konferensie het in Pretoria begin, maar daarna het dit uitgebrei na ander dele van die land. Hierdie is eenvoudig ‘n inisiatief van drie individue wat die begeerte het om hierdie kerkhistoriese gebeure, en die betekenis daarvan vir vandag, opnuut onder gereformeerdes se aandag te bring. Ons bede is dat ons in die jare wat kom hiermee kan voortgaan.